|
Wonderskone Orgideë Orgideë, kan tereg
gekroon word as van die allereienaardigste, maar interessantste plante
ter wêreld. Hul blomme is nie net besonders nie, maar in die groepe is
daar soveel uiteenlopende eienskappe, dat tuiniers en orgideekundiges
nooit verveeld sal raak om hierdie plantfamilie beter te leer ken nie.
Dis altyd die moeite werd om 'n rukkie af te knyp om Botaniese Tuine wat
hierdie plante kweek, of orgidee-skoue of uitstallings, te gaan besoek. |

Groter
weergawe |
|
|
|
Orgideë is van die grootste groep plante in die planteryk en kom in 'n
hele aantal hoofgroepe voor. Een van die groepe is dié soort wat in
grond groei. (terrestrials). Een van die interessanthede van sommige
van die grond-orgideë is dat daar van hulle is wat twee knolle het. Een
word gebruik vir die berging van voeding en die ander vir nuwe groei. 'n
Tweede groep is lithofiete wat op rotse groei. 'n Derde baie bekende
groep is epifiete wat op bome groei. Epifiete is plante wat hul voeding
nie uit die grond verkry nie, maar uit mikro-organismes wat in reën
voorkom. Dit verkry hulle deur 'n lugwortelstelsel. As daardie wortels
dus toegegooi word met grond, vind verrotting plaas en gaan die plant
dood. Die epifiete het soms ook pseudobolle om voeding en water te berg
vir droër tye. |
|
|
|

Groter
weergawe |
Orgideë kom in meeste klimate voor, behalwe in die poolgebiede. Daar is
byvoorbeeld kruidagtige soorte wat in die sub-Arktiese dele voorkom, die
epifiete wat in die woude in en rondom die ewenaar gevind word en ook
soorte wat in woestynagtige dele voor kom. Orgideë is meerjarige
plante. Baie orgideë hou hul blare vir jare, maar daar is ook spesies wat
jaarliks hul blare verloor. Die sade van dié plante is meestal
mikroskopies klein, maar gewoonlik baie. Blomgroottes wissel ook
geweldig baie. |
|
Die hantering van orgideë as huisplante hang van die spesie af. Vandas
geniet beter lig, terwyl oncidiums en paphiopediliums, ook genoem
pantoffel-orgideë, meer skadu geniet. Cymbidiums hou van oggendson.
Cattleyas, vernoem na William Cattley, 'n bekende orgidee-kweker, kan
langer tye effense droogheid verdra en hou blykbaar van nat periodes
opgevolg met droër tye. Hierdie plante se natuurlike groeiplek is die
woude van Brasilië. Behalwe die orgideë wat in grond groei en die
epifiete, is daar ook nog van hierdie blomsoort 'n groep wat ondergronds
groei, soos die tipe (Rhizanthella gardneri) wat in 1928 in Wes-Australië
gevind is. |
|
|
|
Goeie lig, goeie watertoevoer, humiditeit, en goeie lugvloei is baie
belangrik vir dié plante. Cymbidiums wat matige temperatuur verlang, of
dan intermediêre grondgroeiers is, word deur meeste kwekers aanbeveel,
as wegspringplek vir belangstellendes. Orgideë dra hul blomme lank en
kan baie lank leef. Dit is dus 'n goeie belegging vir mense wat
belangstel in mooi huisplante. Iets eienaardigs van orgideë is dat
hulle 'n simbiotiese toestand met 'n mikorisa-fungus het om hul saad
vrugbaar te kry. Die skimmeldraad (hyphae) wat in die grond of omgewing
teenwoordig moet wees, help die orgidee-sade ontkiem en groei. Hierdie
voorvereiste sou tot baie onsuksesvolle pogings lei om orgideë te kweek. |

Groter
weergawe |
|
|
|
Orgideë is deur die
Grieke bewonder as iets mistieks en deur Spaanse
Conquistadores
teruggebring na Europa in die 1500, maar die suksesvolle kweek van dié
besondere plante het 'n geheim gebly. Baie van die plante was deur
sogenaamde orgidee-jagters in die 19de eeu na Europa gestuur, maar
die meerderheid van die plante het gevrek, omdat die kweekhuise se ventilasie
nie bevorderlik vir die meeste orgidees was nie en die kweekpogings nie
kon werk nie, weens die afwesigheid van die fungus. |
|
|
|

Groter
weergawe |
In 1909 het 'n Fransman, Noel Bernard, besef dat orgideë in simbiose met
die fungus leef en dat orgideë slegs kan voortplant as die fungus deel
van die omgewing uitmaak. Pogings om die fungus te kweek was onsuksesvol en
later, omstreeks 1917, is 'n mengsel van
onder andere seewier, deur Lewis Knudsen ontwikkel, om die uitwerking van die fungus na te boots en
voortplanting suksesvol te verkry. |
|
|
|
Dit was 'n groot deurbraak vir die kweekproses van dié plantsoorte.
George Morel het deur die ontdekking van die meristeem (soortgelyk aan
stamselle in diere), die voortplanting van orgideë nog verder 'n
hupstoot gegee. Deur mikrovoortplanting
was kweking van baie orgideë nou moontlik. Die eerste plant wat op
hierdie wyse gekweek was, het in 1966 in 'n Marylandse kweekhuis geblom.
Orgideë in hul natuurlike habitat, kan soms baie skaars word. So is
byvoorbeeld gedink dat die swart orgidee Acrolophia ustulata van
Suid-Afrika uitgesterf was, omdat dit in 1921 laas gelys was. Hierdie
klein en fyn plantjie, wat in die vroeg 1880's deur Harry Bolus
ontdek is, is egter weer in September 1982 deur Vlok, 'n bosbewaarder
raakgeloop. 'n Ander baie besondere groep van orgideë van Suid-Afrika is
die Disa uniflora wat in die Wes-Kaapseberge groei. Die rooi Disa of
Bakkieblom, bly een van die mooiste blomme in die wêreld. |
|
|
|
Orgideë was vroeër baie eksoties en duur, maar onbekend maak in
hierdie geval nie onbemind nie. Of dit nou pragtige
bruidsruikers, of mooi klein handruikertjies vir strooi- en
blommemeisietjies is wat aan die gewrig of gordel gedra word, of
skouerboekette vir die bruidegom, of sommer net 'n verjaardagruiker is, orgideë se gewildheid neem steeds toe. |

Groter
weergawe |
|
|
|
Die blomme se skoonheid is asemrowend, veral omdat al hoe meer hibriedes
ook nou aan die publiek vrygestel word. Die beter toeganklike tegnologie
wat kweekhuise goedkoper en meer effektief maak, asook die toenemende
kennis oor hierdie besondere plante se behoeftes, dra by tot die vreugde dat
doodgewone plantliefhebbers deesdae ook 'n orgidee kan bekostig en met
redelike sukses kan benut as pragtige huisplante. |
|
|
|
|
|
|
|
 |
|
|
Reken nou net!
|
|

Groter weergawe |
Perde
Ponies, donkies, kwaggas, zebras, perde en
ook miniatuurperdjies is almal diersoorte in die genus
Equus in die familie Equidae. Perde is 'n baie besondere groep diere in
hierdie genus, met aansienlike verskille groottes en ander
eienskappe. Hierdie intelligente herbivore
met hoewe en lenige, sterk lywe, is oor die eeue heen getem om as hulp te
dien in vervoer, oorlogsvoering, arbeid en ook sport. |
Perde was onontbeerlik as vervoermiddel, of as deel van 'n voertuig,
asook vir
die trek van ploeë en plaasimplemente in die jare voor meganisasie.
Hoewel verskeie soorte perde vir spesifieke funksies geteel was, is
meeste perde goed bruikbaar as rydiere vir bv. die bymekaar jaag van
vee, soos troppe skape of beeste, die vervoer van mense soos by die
berede polisie, asook vir trekdiere van kapkarre, waens en ander
soortgelyke rytuie.
| |
|
Perde word deesdae ook baie
aangewend in natuurgebiede vir toerisme, bv. vir ritte in bergagtige of ander
minder toeganklike gebiede. Sportsoorte waarin perde 'n hoofrol speel, is
o.a. dressering, perdesprong of gimkana, polo en polocrosse, balieresies,
waentjieresies of die sg. "chuck wagon races", wat oa baie gewild is
in
die westelike dele van Kanada, en vele meer. Perde is ook hoogs opleibaar,
soos gesien kan word by perde soos die Lippizaners. Dit is dus
verstaanbaar hoekom perde ook dikwels in rolprente en die filmbedryf
gebruik word. Perde vorm ook baie kere deel van optogte
en marse waar hulle, net soos die ruiters, ook pragtige opgetof en getooi
word vir die spesiale okkasie. 'n Saal, toom en perdeskoene is alles
deel van die dié diere se versorging en gebruik. |

Groter
weergawe |
Die
terapeutiese waarde van interaksie met troeteldiere is die afgelope jare
uitgewys en perde en ponies speel hier ook 'n rol. Kinders met fisiese
en/of geestelike en emosionele probleme, kan soms baat by die versorging
of ry van 'n ponietjie of perd. Daar is net soos by die gidshonde wat
gestremdes help, ook deesdae klein miniatuurperdjies of ponies wat
aangewend word vir dié doel. Net soos die magdom
verskeidenheid van hond- of katsoorte, is daar ook baie perdsoorte,
waaronder die Arabiese perde, Palomino's, die kragtige werkersperde soos
die Belgiese trekperde, die Suffolk, die Shire en Boerperde. Dan is daar
ook die bont Pinto's, die gespikkelde Appaloosa's, die kleiner maar
vinnige Amerikaanse saalperde en die pragtige en hoogs intelligente
Lippizaners, om maar net 'n paar te noem. Daar is 'n paar dele in die wêreld waar perde nog ongetem in die natuur voorkom. Dit
is oa die bekende Przewalski's, ook bekend as die Mongoolse wilde perde,
wat tans nog vryelik in Mongolië voorkom. Daar is ook die perde van die Camargue,
wat in die Rhone delta in die suide van Frankryk leef.
| |
|
|

Groter
weergawe |
Ongetemde perde wat vry in die natuur leef, maar van getemde voorouers afstam, kom
wel nog voor in die westelike dele van die Amerika's. Dié diere se
oorsprong is waarskynlik vanaf perde wat deur die Conquistadors na
Amerika gebring was en waarvan sommiges in die natuur losgelaat is. Die
bekendste van dié groep is die Mustangs. Daar is ook groepe wilde perde
in Alberta, asook in Sable Island, Nova Scotia in Kanada. Die wilde
perde in Portugal en Spanje staan bekend as Sorraia en dié in Nieu
Seeland as Kaimanawa. Talle ander sulke wilde perde wat van getemde
voorouers afstam, kom nog hier en daar in Europa en ander wêrelddele
voor. |
Mens kan maar net na ou suile of ou kunswerke kyk
om te sien hóé baie perde deel van die geskiedenis gevorm het in die
verlede. Hulle vul ook nou nog 'n belangrike plek. Pragtige diere met 'n
kleurvolle geskiedenis.
|
|
|
|
 |
|
|
| |








































|