ADSA Advertisement Service for the Christian Community

Reken nou net! 10

 

 Opgedateer: 5 Julie 2008 ** Updated: July 5, 2008

Soek in hierdie webwerf  

Search this site  

 

 

Interessante wetenswaardighede en ditjies en datjies

 

 

Die mens en sy dinge 3

 

Hervorming

Hierdie belangrike tydperk, wat ongeveer van die 15de tot 17de eeu geduur het, is van ingrypende belang vir Protestante. Uit die algemene veranderinge op sosiale, politieke en staatsvlak in Europa, het groot dinge ontwikkel, wat algemene, maar ook geestelike hervorming, te weeg sou bring.

Belangrike faktore was oa dat die mens se kennis begin toeneem het en tot ondersoeke, selfstudie en selfstandige denke gelei het. Meer mense het self begin lees en skryf. Die situasie is ook verder aangestu deur die ontdekking en gebruik van die drukpers. Dit het daartoe gelei dat kopieë van boekeksemplare veel makliker gemaak kon word as vorige hand oorgeskrewe geskrifte. Kennis en inligting kon gevolglik baie vinniger, akkurater en veelvoudiger versprei. Natuurlik was Bybels ook deel van hierdie groep geskrifte. Die verspreiding van Bybels het baie verbeter en daarmee saam ook kennis van die inhoud en waarheid daarvan.

Die dwaling en verdoeseling van die waarhede van die Skrif deur Roomse geestelikes van daardie tyd, het teëstand van mense gekry wat dit ernstig met God en Sy gebod bedoel het. So was daar Johannes Hus (1373-1415) wat vir sy kennis van Gods Woord en sy geloof in die waarheid van die Skrif, op die brandstapel gesterf het. Sy sterwenswoorde was: "In 'n 100 jaar sal God 'n man oprig wie se uitroep vir hervorming nie onderdruk sal kan word nie". Die vloeiende bloed van Christen-martelare roep uit om geregtigheid en die vlam van Hervorming het begin. Die kettings van ontoeganklikheid, dwaling, onkunde en duisternis sou verbreek word. Dit geskied deur daardie groeiende groep persone wat self begin lees en leer het uit die oorspronlike tale soos Grieks en Hebreeus. Hulle kennis van die tale en die inhoud van die Bybel lei hulle tot die begeerte om te werk vir hervorming in die kerk en op geestelike gebied.

Mense soos Luther, Wycliffe en Calvyn het almal begin werk om die Woord uit te dra na die gewone volk en ook in hul eie onderskeidelike moedertale. Latyn en Hebreeus is vervang in kerkdienste en die volkstaal is gebruik vir preke en sang, ipv. die ou tale. Psalms en gesange, dus geestelike liedere en Hallelujas, is geskryf in die volkstaal en geestelikes het boeke in die algemene spreekstale begin skryf om hul kennis, insig en opinies te deel met ander gelowiges.

Maarten Luther (1483-1546) was 'n monnik wat skerp gekant was en hom vurige en openlik uitgespreek het oor die verkoop van aflate (kwytskelding van straf vir sonde deur betaling), wat deel van die algemene gebruik in die Rooms-Katolieke kerk was. Toe die pous Luther daaroor veroordeel, het Luther uiteindelik op Sondag-oggend 31 Oktober 1517 sy bekende 95 stellings teen die kerkdeur gaan vaspen om sy onvergenoegdheid sodoende te kenne te gee. Dié belangrike gebeurtenis was 102 jaar na Johannes Hus se dood. Sy sterwenswoorde is bewaarheid en met Luther het die Hervorming 'n deurbraak gemaak wat nie gestuit kon word nie.

Omdat Luther 'n gelowige en kundige Bybelkenner was, het hy goed geweet dat mens nie deur werke of geld jou verlossing kan bewerkstellig of koop nie, maar dat slegs die dood van ons Here Jesus Christus aan die kruis ons redding kan bewerkstellig. Geen aflaatbriefie kon Jesus se genadegawe van Sy kruisdood vervang nie.

In 1520 verbrand Luther die banvloek wat deur die pous aan hom gestuur was in die openbaar en breek dus finaal met die Roomse kerk. Met dié gebeure in Desember 1520, word hy die vader van die Hervorming in Duitsland en ontstaan Prostestantisme.

In 1521 met die Ryksdag te Worms, verskyn Luther voor die keiser waar hy beveel word om alles wat hy geskryf het terug te trek. Die volgende dag maak hy sy beroemde stelling: “Tensy ek deur getuienisse uit die Heilige Skrif of deur duidelike bewyse oortuig word ... kan en sal ek niks herroep nie, want dit is verkeerd en gevaarlik om teen die gewete te handel. Hier staan ek! Ek kan nie anders nie! Mag God my help! Amen."

Maarten Luther vertaal later te Wittenberg die Bybel in Duits en skryf ook etlike boeke en geestelike liedere waarvan “'n Vaste burg is ons God” baie bekend is.

In ander dele van Europa sou nog manne soos Luther na vore tree wat die diep en innige begeerte gehad het om die waarhede uit die Bybel te put en met andere te deel. Groot name by godsdienshervorming is Calvyn, wat in Frankryk en Holland die leiding aan die beweging gegee het, Knox in Skotland en Zwingli, wat sy eie kerk in Zürich in Switserland stig. In Engeland was dit John Wycliffe, wie se invloed uiteindelik sou lei tot Coverdale en Tyndale se vertalings van die Bybel na Engels.

Natuurlik het die vervolging van Protestante in Europa en gebeure soos dié van die Bartholomeusdag-Slagting ook daartoe gelei dat baie van ons voorouers uit daardie gebiede gevlug het en 'n nuwe heenkome in Suid-Afrika gaan soek het, waar hulle hul geloof kon uitleef. Die Calvinistiese invloed op ons geloofslewe is geensins te betwyfele nie.

Die Afrikaanse Bybel wat in 1933 verskyn, is vertaal vanaf die oorspronklike Grieks en Hebreeus. Name wat belangrik is om te noem tov die Afrikaanse Bybelvertaling van 1933, is Totius, dr. Keet, ds. Van Rooyen en dr. Fourie. Taaladviseurs was oa. mense soos Malherbe, Smith en Boshoff.

Vir die martelare wat hul goed en bloed gegee het, sodat ons ons Bybels daagliks in ons eie moedertaal, nl. Afrikaans, kan lees en bestudeer, sal ons kwalik woorde van dank kan hê. Vir mense wat met mannemoed en leeueharte opgestaan het en God's Woord weer ongeveins en oop en suiwer deurgegee het, kan mens net ons Here loof en dank. Dié gebeure het daartoe gelei dat ons as gelowiges enige tyd van die dag ons Bybel kan oopmaak en lees wat God se Woord ons wil leer.

Meer inligting by:

www.educ.msu.edu
www.reformation.org
http://history.hanover.edu
www.greatsite.com (Johannes Hus)
 

 
Ligtorings, Vuurtorings of Ligbakens (Ook soms genoem lighuise)

Ligtorings en hul vuurtoringwagters word oral oor die wêreld aangetref om groot waterweë en seestrate of seegebiede vir die seevaarder veiliger te probeer maak.

So tref mens byvoorbeeld langs die groot mere van Noord-Amerika talle ligtorings aan. Lake Ontario het onder andere die Old Fort-ligtoring met sy kasteelagtige voorkoms. Een van die oudste aktiewe ligtorings by Lake Erie, is Marblehead-ligtoring wat in 1822 gebou was. Lake Superior het verskeie ligtorings, insluitend die Sandeiland-ligtoring, die Raspberry-ligtorings en die Marquette Hawe ligtoring op die Apostle-eilande asook die Passage Island en Rock of Ages-ligtorings.


Kliek foto vir groter weergawe

Aan die Noordwestelike kus van Kanada kry mens 'n magdom vuurtorings. Daar is die pragtige Triple Island-ligtoring en die Pine Island se ligtoring in die noord-westelike deel van die besondere mooi Queen Charlotte Straat. Waar die golwe woes teen die weste van Vancouvereiland slaan, is die Pachena Point-vuurtoring.

Sommige vuurtorings van ouds, is vervang met ligbakens en ander is geoutomatiseer, soos bv. die Brockton Point-ligtoring wat in die Vancouver-hawe is.

Die hoofdoel van ligtorings is om mense op see, of op ander groot waterweë, soos groot mere, te waarsku van gevaarpunte, soos hoogliggende rotse, seebanke of ander bedreigings, wat tot die sink van 'n seevaartuig mag lei. Vuurtorings vergemaklik ook die ingange by hawes.

Ligtorings se geskiedenis trap al eeue lank diep voetspore en een van die bekende vuurtorings in die Antieke geskiedenis, was die Alexandria-Vuurtoring. Dit was beskou as een van die sewe wonders van die antieke tyd en die vuurtoring het ook bekend gestaan as die Pharos van Alexandria. Dit is na bewering in die 1300's in 'n aardbewing vernietig.

Ligtorings het talle argitektoniese style. Vanaf ronde en kegelagtige torings, tot blokkige geboue soos die Neuwerkeiland-ligtoring in Hamburg, Duitsland. Sommiges het mooi kasteelagtige geboue by die toring, soos die Byron Bay-vuurtoring in Nieu-Suid-Wallis, Australië. Ander het gedenkwaardige dele om te besoek, soos die imposante Bengtskär, met sy museum, wat geleë is in Finland.


Iles de la Madeleine
Kliek foto vir groter weergawe

Die boumateriaal wissel ook baie en weens die aard van die aanvanklike doel van ligtorings, is hulle meestal op baie gevaarlike, ongerieflike en besondere plekke gebou. Dus, baie vuurtorings of ligtorings is op uitstaande rots gedeeltes gebou. 'n Voorbeeld hiervan is die bekende ligtoring by Peggy's Point in Nova Scotia (Kanada). Ander ligtorings is soms omring met water en gebou op rotsagtige dele wat net onder die watervlak versteek is, soos die Eddystone-Ligtoring, wat mense van die gevaarlike Eddystone-Rotse moet bewus maak.


Peggy's Cove
Kliek foto vir groter weergawe

Vuurtorings het in die antieke tyd van vuur en sonlig en later van lampe tesame met spieëls gebruik gemaak om die ligtoring se lig te laat vertoon. Die beginsel van die konsentrasie van ligstrale is gebruik en later met behulp van 'n lens (Fresnel-lens) verbeter. In die ouer torings was 'n soort horlosie-apparaat gebruik om die omwenteling en draai-effek van die lig op gereelde basis te roteer. Die tipiese horing is geblaas in stormagtige en mistige weer.

Daar is, weens die beter werking en effektiwiteit, in sommige plekke twee ligtorings naby mekaar gebruik, wat dan die meting vir die vaarder vergemaklik het. Hierdie twee-toring-tegniek is al so vroeg as die 1830's in Europa ontwikkel.

Deesdae is daar beide bemande en onbemande ligtorings, asook ligbakens, omdat die tegnologiese ontwikkeling dit toelaat. Natuurlik is sommiges ook geoutomatiseer om die funksies te verrig.

Met die koms van die Global Positioning System (GPS), het die aard van seevaart baie verander en het baie ligtorings geoutomatiseer of in onbruik geraak. Ligtoringbewoners het ook al hoe minder geword, of die rol van sulkes het meer verander na noodredding. Natuurlik het sommige ligtorings ook besienswaardighede vir toeriste geword, soos die Cabo Branco-ligtoring wat aan die mees suidelike punt van Suid-Amerika geleë is.

Of ligtorings nou nie meer hoogty vier nie, of nie, hulle bly mooi en besondere geboue, wat sekerlik tot groot verligting gelei het vir die seevaarder en sy bemanning tydens stormagtige weer.

Meer inligting oor lig- of vuurtorings:

www.lighthousegetaway.com (mooi foto's)
www.fogwhistle.ca (Vir 'n hele aantal ligtorings aan die westelike kus van Kanada)
www.trinityhouse.co.uk (Engeland)
www.lighthousegetaway.com (Fresnellens)

 

 

Tegnologiese Ontwikkeling

Tegnologiese ontwikkeling beïnvloed alle terreine van ons daaglikse doen en lates en bring groot waardetoevoeging tot ons lewens. Voorbeelde hiervan is onder andere gebiede soos die werksplek, die huis, voedselbedryf, omgewingsbewaring, mediese bedryf, boerdery, kuns, vermaak, opvoeding en talle meer.ADSA: Tegnologiese ontwikkeling

Kom ons begin by die werksplekke se tegnologiese ontwikkelings. Dié plekke waar ons ons brood verdien, het baie verander as gevolg van hierdie ontwikkeling. By die werksplek is rekenaars, Internetverbinding en die gebruik van talle meegaande apparate, masjienerie, implemente en instrumente deel van die normale daaglikse roetine. Dit word veral gebruik vir die verbetering van veiligheid, die beste prestasie van werkers in tandem met die nuwe tegnologie, om sodoende die grootste moontlike produktiwiteit te probeer verkry. Daarmee saam help tegnologiese ontwikkeling ook om die mikpunt vir beter kwaliteit produkte, dienste en algemene verkope uitgebrei te kry. 'n Doelgerigte sagteware-program geskoei, ontwerp en ontwikkel vir 'n sekere taak of aantal take, kan byvoorbeeld baie prosesse in fabrieke, die landbou of talle ander bedrywe beheer. Dit laat werkers dan vry om ander meer intensiewe en ingewikkelder werk te doen, waar oordeel en ander insette nodig is. Die sleurwerk kan dus aan die masjien oorgelaat word, sodat die masjien en rekenaar kan doen waarvoor dit eintlik baie goed is, naamlik outomaat of robot wees.

Een van die belangrikste areas waar tegnologiese ontwikkeling 'n impak gemaak het, is opvoeding en opleiding. Die gebruik van rekenaars, die Internet, asook ander tegnologiese hulpmiddels soos kamera's, mikroskope, video's en so meer, bring die inligting met groter besonderhede tot by die student. Die klaskamers is gevul met rekenaars, drukkers, videomasjiene en talle ander dinge. Dis alles hulpmiddels vir onderwysers, ouers en opvoeders om die student se ontwikkeling aan te help. Goeie kommunikasie en hantering van daaglikse sosiale samesyn help die kind om in 'n geronde volwassene te ontwikkel. Langafstand onderrig het reeds gerealiseer en word al hoe meer toegepas.

Tegnologiese vordering op die ruimtevaart-gebied het bygedra tot die maanlanding, asook ander navorsings-sendings van satelliete na ander planete soos Mars. Die tegnologie wat uit hierdie projekte voortspruit, asook van die inligting wat op daardie reise versamel en ingewin word, word later in ons daaglikse produkte en dienste gebruik. Dit is veral op mediese en chemiese en elektroniese gebiede wat hierdie inligting van groot waarde is en toegepas word.

Weerberigte en weernavorsing baat geweldig by die hedendaagse tegnologie. Met die talle satelliete wat geduring wentel om die aarde, het die navorsing van weertoestande en weerpatrone, asook ander natuurverskynsels soos die auroras, monsteragtige storms en weerlig moontlik geword. Die baan wat winde (jetstreams) om die aarde neem, asook ander invloede van hitte, vulkane, besoedeling, vure en so voorts, op die weerstoestande, het ook met behulp van satelliet-terugvoere moontlik geword. Weerstoestande kan dus vir dae vooruit bestudeer en met behulp van verskeie metings beraam word. Dit lei dan tot redelik akurate weervoorspellings, wat eintlik maar net weerberamings genoem kan word. Wetenskaplikes en weerkundiges wend dus hul kennis, gebou uit vorige ervarings van weerpatrone aan. Sulke weerpatrone wat deur etlike jare gedokumenteer was, asook vandag se tegnologie soos 'n wêreldwye netwerk van barometers, windmeters en so meer, wat veel meer akkuraat kan meet, maak dan saam so 'n beraming vir komende dae moontlik. Hierdie vooruitskattings word gedoen met gesofistikeerde rekenaarmodelle van die atmosfeer, met inagname van geskiedkundige waardes. Sulke beramings is veral van groot waarde in orkaangebiede en natuurlik vir navorsers wat byvoorbeeld na koue gebiede toe moet gaan in die pole. Die publiek kan vooraf gewaarsku word van verwagtinge van groot sneeu- of reënstorms, hoë spoed winde of tornado's.

Die voedselbedryf is nog 'n gebied wat in groot mate deur hedendaagse tegnologie beïnvloed word. Tegnologie soos die GPS stelsels word met groot sukses in die visbedryf gebruik. So kan groot skole vis waargeneem en benut word. Kweekhuise word aan die gang gehou en voedsel met talle nuwe hibrides word gekweek en ontwikkel. Voedsel se inhoud kan ook deesdae tot in die fynste besonderhede met sukses bepaal word. Die uitbreek van siektes en die bekamping daarvan is dus makliker om te hanteer. Massaproduksie van graan, vrugte en groente het 'n móét geword, omdat baie mense in groot stede woon en werk. Sommige lande het droogte en hongersnood en voedsel word dan soontoe uitgevoer. Voedsel moet met sorg hanteer word totdat dit die koper bereik. Tegnologie word ook daar ingespan om voedsel behoorlik te pluk, verwerk, te verpak, te berg en te vervoer.

Boerderybedrywe baat ook by die verbetering op tegnologiese gebied. Groter masjienerie, die beter benutting van hulpbronne soos water, grond en navorsing oor die spesifieke en meelopende gebiede wat die bedryf beïnvloed, asook die hulp van rekenaars wat inligting oor weer, markte en handel, plante- en diere, asook gebeure in die buiteland en ander mediadekkings, met die kliek van 'n muis beskikbaar kan stel, is alles dinge wat die boerdery behulpsaam is. Die bou van damme en die ontwikkeling van besonder plante en kudde rasse en die beter opleiding van boere, hul werkers en professionele personeel soos veeartse, is ook ter sprake.

Omgewingsbewaring, so eienaardig as wat dit mag klink, baat by tegnologie veral met die Internet, TV media asook videomateriaal wat as bewyse van sulke omgewings- of natuurmisbruike kan dien. Dan is daar ook die herwinning van bruikbare afvalmateriaal soos karton, plastiek en glas. Tegnologie help ook met die beste benutting van huidige hulpbronne. Daar word deesdae baie gepraat oor besoedeling, die osoonlaag en die misbruik van die aarde se baie belangrike bronne soos water, land en see. Besoedelde water, grond en lug is vir almal 'n gevaar en almal moet meewerk om ons leefruimtes en die omgewing so goed moontlik te probeer bewaar. Behoorlike benutting van tegnologie kan hier ook ingespan word om te verhoed dat pragtige natuurgebied eenvoudig net in kaalgestroopte mynhope of 'n woestyn ontaard. Daar is byvoorbeeld in Israel baie gedoen deur woestyngebiede te begin terugwin deur die korrekte aanplantings te maak en drupbesproeiing te gebruik. In lande met groot woude word houtkappers en groot houtmaatskappye soms gedwing om herplantings te doen, sodat boomgebiede weer gedeeltelik herwin kan word. Omgewingsvriendelike ontwikkelaars wat groen gebiede laat, of selfs behoorlik inrig vir nuwe intrekkers in die splinternuwe woongebiede, bly skaars, maar dié van hulle wat wel hierdie weg gevolg het, help gemeenskappe om beter te leef en te werk.

By argitektuur is die aanwending van goeie tegnologie van lewensbelang. Geboue, paaie, tonnels, huise en ander soort argitektoniese werke moet veilig wees. Korrek gebou met die regte materiaal en in die regte verhoudings, met alle veiligheidsaspekte soos beskikbare uitgange in noodgevalle, brandbestryding en talle ander veiligheidsfaktore, bly van uiterste belang en is meetbaar met vandag se tegnologie. Swak geboude strukture kan intuimel en lei dan dikwels tot lewensverlies.

Die mens kan tegnologie gebruik om beter en gesonder energiebenuttings te vind. Daar is bv. windlaaiers, gety-kragopwekkers, beter ontwerpte stede en geboue. Sonpanele wat sonkrag kan omsit in elektriese energie ens. Dit alles dra by tot omgewingsvriendelike energieopwekking.

Vir die hedendaagse huisvrou is die mikrogolf, yskas, en watergeriewe in die huis dalk iets alledaags, maar vir oer-oumagrootjie sou dit 'n fees gewees het. Ons geslag is bevoorreg om sulke apparate te hê wat ons lewens vergemaklik. Die dae wat water aangery moes word met die wa, is nog duidelik in sommige se geheues. Wat huishoudelike apparate betref, het dinge baie verander en deesdae is daar selfs die moontlikheid van robotte om huiswerk en ander nuttige takies te verrig. Dis nou wel by sommige van ons net 'n droom, omdat hierdie ontwikkeling nog in sy babaskoentjies is, maar die hoop beskaam nie. Die gedienstige ASIMO het blykbaar ook nou sy robothondjie gekry. In samewerking met die rekenaarontwikkeling, waar sagte- en hardeware 'n kragtige span vorm, het byna alle dele van die samelewing 'n gedaantewisseling ondergaan. Elektrisiteit het 'n groot omwenteling gemaak in die mens se lewe en met die rekenaar wat al hoe groter rol in die gewone huishouding begin speel, is die volgende fase van omwenteling nou weer aan die gang, veral omdat dit die Internet-invloed ook nou by kry.

Kuns, vermaak en tydverdryf, soos toerisme en talle sportgebiede, gebruik tegnologie om al hoe gewilder produkte en dienste te probeer skep. Sportdeelnemers het deesdae al hoe beter apparaat en tegnieke en navorsing kan van 'n gewone atleet 'n kampioen maak, as die waarnemings en tegnologie reg ingespan word. By hierdie gebied sluit aan die tekstielbedryf, waar klere met behulp van programme uitgeknip en gemaak word en massaproduksie sodoende bereik word. Kunsleer, kunspêrels en kunsdiamante is maklik bekombaar. Alles aan tegnologie-ontwikkeling te danke.

'n Baie belangrike deel van tegnologie, wat mens deesdae al hoe meer verstom, is die besondere groei op mediese gebied. Navorsing het baie probleme opgelos, verlig of uitgewys en daar word natuurlik daagliks gesoek na oplossings vir ernstige siektes of dinge wat mens se lewensgehalte kan bevorder. Die ouer geslag het die tyd van die eerste hartoorplanting beleef, maar deesdae is baie meer gevorderde dinge al gedoen. Die mens se genetiese samestelling of te wel die sogenaamde “genome”, is vasgestel en daarmee saam kom baie navorsing en mededelings van genetiese merkers, wat onder andere dinge soos oordraaglike siektes, ander oorerwingsfaktore en soortgelyke dinge bepaal. Nuwe ontwikkelings op hierdie gebied help ook met forensiese wetenskap. Hierdie studie het 'n doel in wetstoepassing, waar misdadigers se DNA gevind en gebruik kan word om wetsoortreders aan te keer en te straf vir hul oortredings.

Ons almal weet watter belangrike rol tegnologiese ontwikkeling in die ekonomie en handel speel. Kitsbanke, aanlyn-bankdienste, kettingwinkels en die handel op die Internet, in markte wat voorheen nie so maklik vir die eenmansaak of privaat persoon bekombaar was nie, is nou alledaags.

ADSA: Tegnologiese ontwikkeling Die vervoerbedryf wat insluit moltreine, lughawes, ruimtevaart, skeepvaart, kanale en hawens speel 'n uiters belangrike rol by veral die vervoer van noodsaaklike middele, soos voedsel, medisynes en hulppersoneel na rampgebiede.

Laaste maar nie die minste nie, is die kommunikasiemedia, soos die Internet, radio, TV en telefoonverbindings. Ons almal weet watter uiters belangrike plek goeie kommunikasie en behoorlike beriggewing speel. Dit kan lewens en geld spaar. Die snel waarskuwings van mense in gevaar as veldbrande of 'n getygolf oppad is, is byvoorbeeld van lewens belang. Waarskuwings met behulp van die TV, radio, die telefoon, of die Internet, het al dikwels 'n impak gemaak op die behoud van menselewens. Die maklike beskikbaarheid van video maak ook dat meer sienings van 'n saak of sekere gebeure afgeneem en vertoon word aan die publiek en besoekers op die Internet. Dit lei weer tot beter kennis of inligting. Die beter mediaapparaat en geleenthede wat die Internet bied, help dat mense inligting en geleenthede veel, veel makliker kan deel. Wetenskaplike inligting, nuus en ook terugvoer oor produkte en dienste. “Kennis is mag”, sê die ou gesegde. Die geweldige ontploffing wat die mediategnologie in die algemeen gehad het as gevolg van die Internetbedryf, het daardie gesegde herbevestig.

Eens op 'n tyd het mense op donkiekarretjies skooltoe gery en nie in 'n vuurwa nie. Telefone was net by die meer gegoedes te vind en het met 'n handslingertjie en handsentrale gewerk. Lense was iets wat in vergrootglase en mikroskope gevind was, terwyl mens deesdae sagte, baie dun en buigsame lense, kleiner as 'n klein muntstukkie kry wat jy op jou oog plaas en kan gebruik om beter te sien. Die mens het sy eerste ruimtevaarders maan toe gestuur en daar was al 'n Mars-landing.

Ons is baie dank verskuldig aan al die mense wat ons lewens kom verbeter, vergemaklik en bevorder het met al die tegnologiese ontwikkelings in hul besondere gebiede. BAIE DANKIE aan die duisende ingenieurs, talle dokters, grosse navorsers, begenadigde ontdekkers en brawe avonturiers wat die buitelyne van die kringe van kennis getoets en beter leer ken het. En dit dan nog gedurig met ons kom deel. Hulle het ons lewens kom verryk en sterk ons hande in die talle belangrike take wat onsself moet doen, of ons nou meester, baas of Klaas is.

 

 

 

 Bybels
 Lees
 Lees 2
 Lees 3
 Lees 4
 Lees 5
 Lees 6
 Rekenaar
 Rekenaar 2
 Rekenaar 3
 Reken nou net
 Reken nou net 2
 Reken nou net 3
 Reken nou net 4
 Reken nou net 5
 Reken nou net 6
 Reken nou net 7
 Reken nou net 8
 Reken nou net 9
 Reken nou net 10
 Reken nou net 11
 Reken nou net 12
 Reken nou net 13
 Reken nou net 14
 Swartlys

 Dienste
 Gebeure
 Help
 Poste
 Produkte
 Skole
 Vermaak

 Mediakaart
 ADSA
 Media Map

 Bibles
 Computer
 Computer 2
 Computer 3
 Read
 Read 2
 Read 3
 Read 4
 Read 5
 Read 6
 Blacklist

 Entertainment
 Events
 Help
 Jobs
 Products
 Schools
 Services

Op|UpBiblesBybelsLees|ReadLees 2|Read 2Lees 3|Read 3Lees 4|Read 4Lees 5|Read 5Lees 6|Read 6Rekenaar|ComputerRekenaar 2|Computer 2Rekenaar 3|Computer 3Reken nou net!Reken nou net! 2Reken nou net! 3Reken nou net! 4Reken nou net! 5Reken nou net! 6Reken nou net! 7Reken nou net! 8Reken nou net! 9Reken nou net! 10Reken nou net! 11Reken nou net! 12Reken nou net! 13Reken nou net! 14

ADSA Werfkaart | ADSA Site Map

     
 

 Download Bibles

Bybels vir Aflaai

 

ADSA vir Klein Advertensies

ADSA © 1998-2008
Verontskuldiging ** Disclaimer

ADSA for Small Ads