ADSA FREE Advertisement Service for the Christian Community

Reken nou net! 3

 

OOpgedateer: 16 Mei 2013 ** Updated: May 16, 2013

Soek in hierdie webwerf  

Search this site  

 

 

 

 

Landskappe

As mens na pragtige koffietafelboeke, mooi glanstydskrifte of foto's oral op die Internet kyk, word mens bewus dat die omgewing waarin jy bly, maar net een van miljoene ander is. Die omgewings en landskappe verskil van plek na plek en van land na land. Die voorkoms van 'n landskap word deur baie dinge bepaal soos die groepe mense en hul kultuur wat daar woon, die klimaat van die gebied en natuurverskynsels soos groot tornado's, hewige winde of golfgetye, verspoelings, vulkaanuitbarstings, aardbewings, brande of ander mensgemaakte- of natuurrampe. Die soort weersomstandighede wat daar deurentyd is en wat wissel van seisoene na seisoen, of daar riviere, mere, groot bergreekse of kusgebied is en talle ander invloede, bepaal die landskappe regoor die wêreld.

Belangrike onderskeidings kan waargeneem word by landskappe soos stedelike gebiede, landelike gebiede, woestyn- of moeras-areas, see of kusgebiede, die berglandskap of platteland en nog vele ander. Natuurlik wissel die natuur- en dierelewe van verskillende landskappe ook baie as gevolg van bogenoemde invloede.

 

Landelike milieu

In die landelike milieu is die omgewings wel minder onherbergsaam gemaak deur boere, maar tog het baie van hulle die mooi natuurlike aard van die omgewing probeer bewaar. Boere kan met trots sê dat baie van hulle nie net produsente is wat vir groot groepe mense voedsel produseer nie, maar hulle is ook amateur omgewingsbewaarders wat intens belangstel in dinge soos grondbewaring, behoorlike waterbenutting en waterbewaring en talle soortgelyke dinge.


Groter weergawe

 

Hulle toon dikwels 'n groot belangstelling om die natuur en dierelewe in en om hul plase en kleinhoewes te bly bewaar.

Die unieke samewerking tussen die boer en natuur, bly belangrik en met goeie ewewig van hulpbronbenutting kan beide die landskap en die boer daarby baat.

Diere wat in landelike gebiede voorkom kan dié wees wat op die plaas aangehou word, soos beeste, skape, pluimvee, varke, perde en troeteldiere en so meer. Daar is ook wilde diere soos bokke, klein wildsoorte, voëls en veral ook roofvoëls, klein soorte soogdiere soos meerkatte, hase, ystervarke en krimpvarkies en nog talle ander.

 

Stadslandskap

In stede, waar die mens homself goed ingewortel het, is die landskap so aangepas en ingerig dat dit talle geboue, winkelsentrums, padstelsels en groot brûe en baie huise en woonstelblokke bevat. Die hoof mikpunt is om 'n ruimte te hê waar groot groepe mense saam kan woon en werk. Die nadele van groot stedelike gebiede is legio, maar die produktiwiteit wat uit so 'n gebied kom is ook voordelig vir die hele land. Deesdae het stedelinge ook weer begin werskaf om hul omgewings so bietjie te verfraai en op te kikker met plante, bome, parke, mooi natuurwandelpaadjies of groot tuine. Groot stede in die wêreld begin ook al hoe meer konsentreer op beter natuurpaadjies, ontspannings-areas en fietspaadjies om inwoners die geleentheid te gee om vinnig vanaf die huis in 'n natuurgebied te kan kom waar hulle kan ontspan.

Voëls, insekte en troeteldiere is hoofsaaklik die soort diere wat tipies in stede voor kom, maar daar is ook stede wat byvoorbeeld eekhorinkies en hase het wat ewe rustig tussen die stadstuine baljaar. Daar is selfs gholfbane waar wild soos bokkies soms voor kom.

 


Groter weergawe

Woestyne

Daar is 'n hele paar groot en bekende landskappe in die wêreld wat onder hierdie groep geklassifiseer kan word. Daar is onder andere die Sahara in Afrika, wat die grootste en warmste woestyn ter wêreld is. Nog 'n ander grote is die Kalahari-woestyn.

 

Daar is ook die Gobi-woestyn in Asië, die Great Victoria-woestyn in Australië, die Patagoniese woestyn op die Suid-Amerikaanse kontinent en die Colorado woestyn in Amerika.

Baie unieke plante en diere kom in dié soort gebiede voor soos die welwitschia-plante, talle soorte geharde bossies en so voorts. Diere soos bakoorjakkalsies, skerpioene, springhase, talle unieke spinnekoppe en natuurlik ook reptiele (wat goed aard in warmer gebiede), is almal bewonders van woestyngebiede.

 

Moeras-gebiede

Vleilandskappe met talle bome en plante wat net in daardie gebiede voor kom en kan leef, word deesdae al hoe skaarser. Die ekologie in en om so 'n vleilandgebied is uiters kosbaar, maar ook hoogs sensitief. Sommige dorpe en stede wat naby sulke gebiede begin ontwikkel het, het party sulke vleilandskappe baie benadeel, deur byvoorbeeld groot nasionale paaie dwarsdeur so 'n gebied te bou.


Groter weergawe

 

Moerasse is ook soms so versteur dat groot dele droog geraak het en aangewend word vir uitbreiding van dorpsgebied. Die nadelige impak van sulke soort "ontwikkelings", bly 'n skade en skande, want uniekheid van die diere- en natuurlewe in sulke besondere plekke kan nooit weer vervang of hervestig word nie.

Daar is wonderlike natuur en dierelewe in moerasse. Daar is talle waadvoëls soos pelikane, eende en swane en ook sonderlinge diere soos die lamantyns en kaaiman. Daarby is ook nog duisende unieke insekte, klein boksoorte en veral vissoorte wat in die mangrove-gebiede probeer oorleef.

 

See- en kusgebiede

Dié van ons wat in die binneland woon, weet watter heerlike ervaring dit is om by die see te gaan kuier. Die oseane met hul kragtige branders, uitgestrekte kuslyne en ver horisonne van blou, skep 'n heerlike rustige, maar ook avontuurlike atmosfeer. Kusgebiede kan rotsagtig wees of met skilderagtige bleekwit strande. Eilande en al hul pragtige voëllewe vorm ook deel van hierdie landskappe.

Die plante en bome aan die kus weerstaan die winderige weer vanaf die see. Palmbome is 'n goeie voorbeeld daarvan en word dikwels op die gebiede net langs strande gekry. Diere soos walvisse, dolfyne, vis, krappe en onder andere talle soorte seevoëls, kan by die kus aangetref word. See- en kuslandskappe word ook beïnvloed deur die invloei van riviere soos die monding van die Amasone-rivier, en die Sint Lawrence-rivier waar mens die hoogs bedreigde spesies, die baluga's, aantref.

 


Groter weergawe

Poolgebiede

Die Noord- en Suidpool is beide baie interessante omgewings en hoewel Eskimo's al vir eeue in die Noordelike poolgebied bly, begin die mens nou maar eers so bietjie meer leer van dié unieke landskappe wat daar in sulke koue streke is. Met baie koue temperature en hewige winde wat daar waai, sien die landskappe daar heel anders uit as enige ander soort landskap op die aarde.

 

Van plantlewe is daar min te siene, selfs in die somermaande, ten spyte van die lig wat 24 uur skyn op sommige areas.

Dierelewe kom hoofsaaklik in die see voor. Walvisse, ysbere, seeleeus, walrusse en verskeie soort vis, asook eienaardige diere, soos byvoorbeeld die narwal, kan in hierdie ysige gebiede gevind word.

 

Grasvlaktes

Groot grasvlaktes of sg. prêries kom in baie kontinente voor. Die Cypress Hills Interprovinsiale park, wat in 'n gebied tussen Alberta en Saskatchewan in Kanada geleë is, is 'n goeie voorbeeld van dié soort landskappe. In Amerika kom die grasvlaktes oor 'n wye gebied voor van state soos Oklahoma, Kansas, Nebraska en die Dakotas. Die Pampas in onder andere Brasilië en Argentinië, asook die Steppe, is verdere voorbeelde.

Baie van hierdie natuurlike grasvlaktegebiede is deur veral veeboere oorgeneem vir bees, skaap of ander soorte veeboerdery. Talle van die vlaktes is ook omskep in groot graanlande met graangewasse soos koring en mielies.

Tog is daar in hierdie area nog redelik groot onversteurde dele waar die natuurlike wild en voëls van daardie bepaalde gebied nog voor kom. So het die grasvlaktes van Amerika en Kanada bokke soos die pronghorn wat nog wild voorkom. Daar is ook nog soortgelyke diere wat wild op grasvlaktes te vinde is soos bison, prêriehoenders, die dertien-lyn-grondeekhoring, die geelkop-bobolink voëltjie en talle soorte uile. Op die Afrika-vlaktes is wild soos springbokke, wildebeeste, jakkalsies en selfs hiënas nog te vinde. Op die Australiese vlaktes is wallabies en kangaroes deel van die inwoners. Noemenswaardig by die steppe-diere is die Saiga boksoort wat uiters skaars en 'n bedreigde spesie is. Hierdie diere word deesdae hoofsaaklik in Mongolië en Kazakhstan aangetref.

 

Berglandskap

Bergstreke is nog dele van die wêreld wat groot uitdagings bied vir die avontuursoeker. Gebergtes se plantegroei en dierelewe word beïnvloed deur die ligging op die aarde en daarmee saam die klimaat en die hoogte van die bergarea. Kragtige bergreekse is onder andere die Alpe, die Himalajas en die Rockies.

 


Groter weergawe

Diere wat in sulke gebiede voorkom, is onder andere klein marmot-soorte, bergskape, bergbokke, bergleeus, roofvoëls soos arende, aasvoëls en talle soorte valke.

 

Woude

Woudgebiede kom meestal naby die ewenaar voor en het in die onlangse dekades begin verminder, omdat sommige bedrywe nie die wonderlike ekologie van hierdie soort landskap waardeer nie, maar ontbossing toepas, bloot vir eie gewin oor die kort termyn. Die mens het nog veels te min kennis van dié soort gebiede en die hulpbronne wat daar in hulle opgesluit lê. Gevolglik word ontsaglike skade aan plante, diere en die totale ekologie aangerig. Baie navorsing en die wil om hierdie wonderlike landskappe te bly behou vir nageslagte is nodig, maar die wil daarvoor ontbreek ongelukkig dikwels. Daar is bv. potensieël baie belangrike plante wat die sleutel hou tot die genesing van talle siektes in ons huidige wêreld.

Plante in woudgebiede sluit in groot bome, klimplante, bromelias, waterplante en talle swamme en ligene. Daar is waarlik baie soorte diere wat woude hul woonplek maak. Vissoorte, waadvoëls, derduisende soort insekte, wilde katsoorte, apies en ander primate, klein boksoorte, reptiele en menige ander soort diere is bewoners van woude.

 


Groter weergawe
 

Nasionale Parke

Vanaf die laat 1890's, het Nasionale Parke en natuurbewaringsgebiede al hoe meer belangstelling begin kry. Hoewel so 'n gebied weliswaar kunsmatig geskep word, is die goeie doel wat dit probeer bereik, nl. die bewaring van die natuur en omgewingsbewaring, iets prysenswaardig.

Nasionale parke het wel baie gekommersialiseer geraak, maar dit het tog ook die besoeker meer bewus gemaak van die uniekheid, geskiedenis, plante- en dierelewe en algemene natuurskoon van groot wêrelddele.

 

Dierelewe in Nasionale parke word beheer, maar dit bly van die wonderlikste plekke om besondere diere nog so in hul natuurlike omgewings te beskou.

Bekende parke is bv. Banff Nasionale Park in Kanada waar diere soos die bergleeu, bere en bergskape nog te vinde is en die Krugerpark waar diere soos olifante, luiperds, kameelperde en leeus te siene is.

Landskappe verryk ons lewens. Kom ons bewaar dit en geniet die wonderlike dinge wat dit vir ons kan bied.

"This is my Father's world, and to my listening ears
All nature sings, and round me rings the music of the spheres.
This is my Father's world: I rest me in the thought
Of rocks and trees, of skies and seas;
His hand the wonders wrought."

Bostaande is 'n aanhaling uit die lirieke van "This is my Father's World". Dit is geskryf deur M. D. Babcock. Die woorde is geskryf nav. Ps 98:11 wat so in Engels lui:

"The heavens are Thine, the earth also is Thine:
as for the world and the fulness thereof,
Thou hast founded them."
* Psalm 89:11 *

Vir meer inligting oor:

Rotsbewonders besoek: Ruwe Rotsbewonders
Woude besoek: natuur.afrikaansegids.info (Woude)
Patapgonië besoek: Patagonië
Primate besoek: Primate
Die Florida vleigebied besoek: Florida Everglades
Tuine besoek ons Tuine-artikel
Stede besoek: Stede
Banff se talle stap- of bergklimroetes of ander uitstappies besoek: Banff 
Tankwa Nasionale Park

 

 

Ontspanning

Ontspanning is daardie heerlike geleentheid wat deesdae vir baie van ons ontwykkend bly, maar ontspanning is terselfdertyd iets belangriks vir liggaam, siel en gees. Die woord ontspanning roep verruklike gedagtes op en die wyse van ontspanning is wyd uiteenlopend.


Groter weergawe

 
Ontspanning gee weer nuwe energie vir die talle take wat nog wag en gee perspektief en vars inspirasie om belangrike take weer met nuwe entoesiasme te takel en suksesvol uit te voer.
 


Groter weergawe

Die beste manier van ontspanning is waarskynlik iets wat die liggaam bietjie laat werk, maar die kreatiewe gedagtes vrye teuels gee.

Enige van die volgende kom hier ter sprake: 'n heerlike uitstappie op 'n wandelpaadjie, 'n fietsrit saam met die gesin of perdry op 'n pragtige bergroete, enige van die heerlike sportsoorte soos swem, tennis, 'n potjie gholf, ritte met 'n kano of seilbootjie, 'n toer na 'n pragtigs natuurgebied of interessante deel van die buiteland en nog 'n miljoen ander dinge.

 
Daar is deesdae die neiging om baie passief te wees en byvoorbeeld ure voor die TV of op die Internet deur te bring, maar werklike ontspanning laat mens verkwik en met geestelike hernuwing voortgaan.


Groter weergawe

 
Spanning word dikwels te gou met medikasie behandel, terwyl 'n goeie daaglikse fiksheidsprogram en behoorlik benutte ontspanning veel groter sukses behaal. Boonop kan 'n bietjie beweging nie net die gees verkwik nie, maar die liggaam help om beter te funksioneer.
 


Groter weergawe

Vir die mense wat van te veel ontspanning 'n beroep probeer maak, is die boodskap dat jy die risiko loop om ontspanning eersdaags as 'n werk te ervaar en dan sal jy moet gaan werk om te kan ontspan!
 
Vir dié wat lanklaas bietjie ontspan het en baie hard gewerk het die afgelope tyd, net dít, probeer 'n bietjie ontspanning saam met die gesin. Werk dit in die rooster in as 'n vaste afspraak, as dit dan móét. Die gesin het u nog baie lank nodig en 'n dag se ontspanning gaan nie die bank breek nie.


Groter weergawe

 
Hier is 'n paar idees vir heerlike ontspanning:
  • Gaan op 'n staproete op een van die talle pragtige wandelpaaie
  • Gaan kampeer vir 'n naweek
  • Gaan neem 'n bootrit
  • Gaan stap vir 'n hele ent langs die see en geniet die vars seebries
  • Gaan leer valskermspring
  • Gaan speel tafeltennis, netbal of een van die ander soortgelyke sportsoorte
  • Gaan duik of swem in die see en ontdek die interessante natuurlewe in die see
  • Gaan kyk of dit regtig so moeilik is om 'n lugballon of hangvlieër te leer hanteer
  • Gaan sit rustig en pak 'n legkaart saam met 'n gesinslid
  • Gaan werk in die tuin en bewonder die pragtige blomme
  • Gaan sny oupa se gras en gesels so bietjie lekker met hom
  • Maak 'n mooi lappop vir 'n klein dogtertjie
  • Maak 'n kaskar vir die jongspan en leer hulle hoe om 'n wenspan te wees
  • Skep 'n mooi skildery of ander kunswerk
  • Ryg krale, brei 'n mooi trui, hekel of borduur 'n oulike lappie
  • Sit heerlik en gesels om die kampvuurtjie
  • Luister na jou kroos se geselskap as hulle hul vreugdes met jou wil deel
  • Speel albasters saam met die kinders en wys hulle hoe dit regtig gedoen word
  • Gaan reis en beleef die interessante dinge van ander wêrelddele
  • Lees 'n lekker boek of woon 'n opvoering of musiekaand by
  • Neem jou kamera en gaan kyk of jy vir 'n slag 'n mooi voël of vlinder kan afneem
  • Tokkel weer bietjie op die klavier of kitaar en sing of skryf 'n mooi liedjie
  • Maak en vlieg 'n kleurvolle vlieër
  • Bou 'n pophuis of boomhuis vir die kinders wat al so lank daaroor neul
  • Maak mooi klein geskenkies wat nuttig sal wees vir Kerstyd
  • Neem Brakkenjan die brakkie vir 'n rondomtalie stapsessie. Hy sal dit baie geniet, en jy waarskynlik ook.
  • Gaan koop 'n mooi ruiker en nooi jou vrou uit vir 'n heerlike ete by haar geliefkoosde eetplekkie
  • Ens... ens.. ens.
 


Groter weergawe

Ontspanning mag ontwykend wees, maar vir dié van ons wat geleer het om dit beter te benut, het die lewe sommer nuwe kleur en pragtige vooruitsigte gekry.

 

  Nog idees vir ontspanning
Pretparke
Lugbalonne
Veerbootrit
Kuns

Maar laat húlle almal bly wees wat by U skuil; laat hulle vir ewig jubel,
en beskut U hulle; en laat in U juig die wat u Naam liefhet.

Psalm 5:11

 


Groter weergawe

Dankie aan NASA vir die foto.
Besoek hul webwerf vir die volgrootte foto of vir nog ander lugfoto's van hierdie area.

Die Florida Everglades

Die moerasagtige gedeelte rondom die suidelike Florida-punt, staan bekend as die Florida Everglades. Hierdie besondere natuurgebied het geweldige unieke en eksotiese plante en diere wat nét in dié bepaalde gebied voorkom. Baie van die spesies in die park en direk aangrensende en omliggende bewaringsgebiede word deesdae bedreig weens indringing van uitheemse plante en diere, maar veral ook agv die mens se bewerking en vernietiging van die natuur in daardie omgewing.

Paaie, die bou van kanale en waterweë, die kunsmatige aanplant van uitheemse bome en ander plante, asook die uitbreiding en ontwikkeling van voorstede en woongebiede, dra alles by tot die vernietiging van die natuur in die gebied.

 

Die onderstaande is maar slegs 'n kort lysie van sommige van die pragtige en interessante diere wat tans nog in die Florida Everglades-gebied gevind word.

 

die Amerikaanse Koningriethane die Key Largo Bosrotte
die Florida panters die Manatees of Lamantyns
die Grys Vossies die Opossums
die Krokodille die Alligators
die Bruin Pelikane die Kaalkoparende
die Blou Reiers die Wasbeertjies
die Swart Bere die Key Bokkies
die Lepelaars die Voskatte of sg "bobcats"
die Otters die Vleikonyne

'n Geweldige reeks insekte, voëls, reptiele en amfibieë kom voor, maar vir die doel van hierdie bespreking word net enkeles hier belig.

 

Die Amerikaanse Alligator of Kaaiman: Dié reptiele is baie te vinde in die Florida Everglades. Hulle het die eienaardige gewoonte om neste van plantaardige materiaal te bou waarin hulle hul eiers lê. Die eiers word dan met plantaardige materiaal soos stokke, riete, palmiet en blare toegemaak. Daar word gemiddeld 50 eiers gebroei. Dié reptiele is uitsluitlik varswaterdiere.

Groter weergawe

 

Die Amerikaanse Krokodil: Hierdie reptiele is uiters skaars en kan wel effense soutwater verdra. Hulle grawe broeigate in rivierbeddings en bedek die eiers met sand of grond. Daar word gemiddeld so 40 eiers gebroei. Beide die mannetjie en wyfie hou wag by die broeiplek en sommige kere deel wyfies die broeiplek. Krokodille kan tot 100 jaar oud word.
 

Die Opussum: Hierdie eienaardige dier is uniek in dié sin dat hulle buideldiere is. Dit is een van die grootste soort buideldiere in die Amerikas, ongeveer so groot soos 'n huiskat met 'n wit gesig, swart pelslose ronde oortjies en gryserige pels. Hulle kan goed klou met die stert. Die pootjies is pienk met lang skerp naeltjies.
 

Die Vleikonyn: Hierdie diere het kleiner ore as wat mens by ander hase of konyne sien. Die pels is bruin en gestippel met roesbruin. Soos baie ander knaagdiere is hulle meestal snags besig. Hulle eet geredelik aan blare, maar die talle bolplantjies van die vleiland en moerasgebiede maak hulle ideale inwoners van hierdie habitat. Die vleikonyne kan besonder goed swem.
 

Die Key Bokkie: Die Key bokkie kom slegs in hierdie gebied voor en nêrens anders. Hul oorlewing is dus van groot belang. Gedurende Februarie en Maart gooi die bokkies hul horings af en dit groei dan weer uit. Gedurende die 1940's was dié mooi diere so min as 50, maar met streng wetgewing het hulle nou sederdien oorleef en het hulle getalle effens gegroei. Hulle is hoofsaaklik in Big Pine Key te vinde.

 

Groter weergawe

Die Amerikaanse Koningriethaan (Purple Gallinule): Hierdie pragtige gekleurde voëls met hul blou-pers op die bors, kom hoofsaaklik in die moerasse van die Florida Everglades voor. Met die rooi en geel aan die bek en die blou op die voorkop kan hulle maklik onderskei word van ander soortgelyke voëls soos die waterhoender met sy kenmerkende rooi bek en die pers moerashen, wat ook daar voor kom. Die Amerikaanse Koningriethaan het groot geel lang tone waarmee hulle behendig op lelieblare kan loop.

 
Die Manatees of Lamantyns: Hulle is interessante soogdiere wat in die mangrove en vleiagtige omgewings van die Florida Everglades voorkom. Soos walvisse en dolfyne haal hierdie diere asem deur lugweë en is dus nie soos visse wat deur kiewe asemhaal nie. Hulle lywe herinner baie aan die seeleeus of walrusse, omdat hulle ook baie vet of sg. "blubber" het, maar hulle voorkoms is verder uniek met goeie gehoor en kleinerige oë.

Hulle woon in groepe en eet varswater- en marineplantegroei wat aan kusstreke en by die mondings of vlak oewers van riviere voorkom. Hulle eet ongeveer 70 soorte plante wat in die wortelboomgebiede voorkom en hulle kry nuwe tande as die oues uitgedien raak of uitval. Hulle swem redelik stadig en dít tesame met die feit dat hulle habitat baie vernietig is, is waarskynlik een van die redes wat maak dat hulle op die bedreigde spesielys is.

Groter weergawe

 

Groter weergawe

Die Voskat: Hierdie pragtige soogdiere is duidelik familie van die rooikat wat in sekere dele van Suid-Afrika voorkom. Hulle is net so lenig op die bene, maar met gespikkelde pels. Hierdie diere is nie 'n bedreigde spesie nie en kom redelik volop in die parke in die Everglades-omgewing voor.

 

Die Florida panter of bergleeu: Laaste maar nie die minste nie, die besondere bergleeu. Hierdie pragtige roofdiere met hul geel oë en goud- en geelbruin pels, kom darem nog in die hoërliggende Florida-bewaringsgebied voor, maar die spesie is baie uitgedun en ook op die baie-bedreigde-spesielys. Die diere word nie vreeslik oud nie. Maar sowat 12 na 15 jaar. Na bewering is daar tans net sowat 80 van dié besondere diere oor.

Groter weergawe

 

Verskeie habitats:

Benewens die groot groep diere kom daar etlike ekosisteme voor soos die watermoeras of vleilandgebied, met talle besondere waterdrywende plante soos die waterlelies, blasiekruide, koeilelies of geelwaterlelies en nooienskieries.

 

Groter weergawe

Nog 'n besondere ekosisteem, benewens die watermoeras, is die boom-eilandjies, waar struike en bome soos sipresse en wilge en talle hangplante voorkom. Op sulke boom-eilandjies is daar ook pragtige bromeliads, orgideë en tropiese varings.

Noemenswaardig is die wortelboomgebiede waar die see- en varswatergebiede mekaar ontmoet. Dié bome is regoor die wêreld te vinde en skep skuiling vir baie waterdiere. 

 

Bedreigings vir plante en diere in die Florida-bewaringsgebied

Daar is 'n hele aantal indringerdiere wat hierdie area ernstig bedreig. Onder meer is daar geel anakondas, luislange, groen koggelmanders, Nyl-likkewane en Burmese luislange, asook die Kubaanse boompadda. Dan is daar ook nog wilde varke, huiskatte (wat in die veld weggegooi was) en swart rotte, om maar net enkeles te noem. Indringervoëls sluit in Mynas, Monnikparakiete en die pers moerashoender.

Plante wat die gebied bedreig, is byvoorbeeld die Brasiliaanse Peperboom, die Sjinese liguster, waterhiasinte, waterslaai en die ouwêreldse klimvaring, wat inheemse plante ernstig verdring en verhoed dat sade van inheemse plante kan ontkiem en groei.

Groter weergawe

Die uitheemse diere veroorsaak dat die druk op pragtige diere soos die bos-ooievaar, die seemossie en die slakvalkie, asook die wit kroonduif, al hoe ernstiger raak en hulle deel van die bedreigde spesielys word.

Pragtige natuurgebiede soos die Florida Everglades is die moeite werd om te behou vir die nageslag. Ekosisteme is ingewikkeld en enige natuurkundige wat sy sout werd is, sal dit kan beaam dat 'n vernietigde omgewing baie moeilik, indien enigsins, herstel kan word. Natuurgebiede reg oor die wêreld word al hoe meer verwaarloos en nalatigheid en gierigheid lei tot onomkeerbare skade.

Die onus rus by ons om sulke gebiede te bewaar. Ons hoop die Amerikaanse gemeenskap in hierdie uiters sensitiewe natuurgebied gaan voort met hul pogings om die omgewing te bewaar en te herstel, die bedreigde spesies te probeer red, die indringers uit die weg te ruim en die gebied mooi behoue te laat bly vir die nageslag.

Die Florida Everglades is 'n pragtige juweel.
 

Volg enige van die skakels hieronder vir meer inligting.

   
www.evergladesplan.org (Everglades in die algemeen)
www.nwf.org (Everglades in die algemeen)
www.ehow.co.uk (vir die verskeie habitats in die Florida Everglades)
www.miamisci.org (Key bokkies)
en.wikipedia.org (Manatee)
ezinearticles.com (Manatee)
www.tigerhomes.org (Moerashoender)
www.wildlifenorthamerica.com (Vleikonyn)
www.fcps.edu (Opossum)
www.nsrl.ttu.edu (Opossum)
www.oiseaux-birds.com (Koningriethaan)
www.squidoo.com (Koningriethaan)
Meer oor Orgideë
Meer oor Woude
Meer oor Berghabitat
Meer oor Voëls
 

 

Wonderskone Orgideë

Orgideë, kan tereg gekroon word as van die allereienaardigste, maar interessantste plante ter wêreld. Hul blomme is nie net besonders nie, maar in die groepe is daar soveel uiteenlopende eienskappe, dat tuiniers en orgideekundiges nooit verveeld sal raak om hierdie plantfamilie beter te leer ken nie.

Dis altyd die moeite werd om 'n rukkie af te knyp om Botaniese Tuine wat hierdie plante kweek, of orgidee-skoue of uitstallings, te gaan besoek.

Groter weergawe

 
Orgideë is van die grootste groep plante in die planteryk en kom in 'n hele aantal hoofgroepe voor. Een van die groepe is dié soort wat in grond groei. (terrestrials). Een van die interessanthede van sommige van die grond-orgideë is dat daar van hulle is wat twee knolle het. Een word gebruik vir die berging van voeding en die ander vir nuwe groei. 'n Tweede groep is lithofiete wat op rotse groei. 'n Derde baie bekende groep is epifiete wat op bome groei. Epifiete is plante wat hul voeding nie uit die grond verkry nie, maar uit mikro-organismes wat in reën voorkom. Dit verkry hulle deur 'n lugwortelstelsel. As daardie wortels dus toegegooi word met grond, vind verrotting plaas en gaan die plant dood. Die epifiete het soms ook pseudobolle om voeding en water te berg vir droër tye.
 

Groter weergawe

Orgideë kom in meeste klimate voor, behalwe in die poolgebiede. Daar is byvoorbeeld kruidagtige soorte wat in die sub-Arktiese dele voorkom, die epifiete wat in die woude in en rondom die ewenaar gevind word en ook soorte wat in woestynagtige dele voor kom.

Orgideë is meerjarige plante. Baie orgideë hou hul blare vir jare, maar daar is ook spesies wat jaarliks hul blare verloor. Die sade van dié plante is meestal mikroskopies klein, maar gewoonlik baie. Blomgroottes wissel ook geweldig baie.

 
Die hantering van orgideë as huisplante hang van die spesie af. Vandas geniet beter lig, terwyl oncidiums en paphiopediliums, ook genoem pantoffel-orgideë, meer skadu geniet. Cymbidiums hou van oggendson. Cattleyas, vernoem na William Cattley, 'n bekende orgidee-kweker, kan langer tye effense droogheid verdra en hou blykbaar van nat periodes opgevolg met droër tye. Hierdie plante se natuurlike groeiplek is die woude van Brasilië. Behalwe die orgideë wat in grond groei en die epifiete, is daar ook nog van hierdie blomsoort 'n groep wat ondergronds groei, soos die tipe (Rhizanthella gardneri) wat in 1928 in Wes-Australië gevind is.
 
Goeie lig, goeie watertoevoer, humiditeit, en goeie lugvloei is baie belangrik vir dié plante. Cymbidiums wat matige temperatuur verlang, of dan intermediêre grondgroeiers is, word deur meeste kwekers aanbeveel, as wegspringplek vir belangstellendes. Orgideë dra hul blomme lank en kan baie lank leef. Dit is dus 'n goeie belegging vir mense wat belangstel in mooi huisplante.

Iets eienaardigs van orgideë is dat hulle 'n simbiotiese toestand met 'n mikorisa-fungus het om hul saad vrugbaar te kry. Die skimmeldraad (hyphae) wat in die grond of omgewing teenwoordig moet wees, help die orgidee-sade ontkiem en groei. Hierdie voorvereiste sou tot baie onsuksesvolle pogings lei om orgideë te kweek.

Groter weergawe

 
Orgideë is deur die Grieke bewonder as iets mistieks en deur Spaanse Conquistadores teruggebring na Europa in die 1500, maar die suksesvolle kweek van dié besondere plante het 'n geheim gebly. Baie van die plante was deur sogenaamde orgidee-jagters in die 19de eeu na Europa gestuur, maar die meerderheid van die plante het gevrek, omdat die kweekhuise se ventilasie nie bevorderlik vir die meeste orgidees was nie en die kweekpogings nie kon werk nie, weens die afwesigheid van die fungus.
 

Groter weergawe

In 1909 het 'n Fransman, Noel Bernard, besef dat orgideë in simbiose met die fungus leef en dat orgideë slegs kan voortplant as die fungus deel van die omgewing uitmaak. Pogings om die fungus te kweek was onsuksesvol en later, omstreeks 1917, is 'n mengsel van onder andere seewier, deur Lewis Knudsen ontwikkel, om die uitwerking van die fungus na te boots en voortplanting suksesvol te verkry.
 
Dit was 'n groot deurbraak vir die kweekproses van dié plantsoorte. George Morel het deur die ontdekking van die meristeem (soortgelyk aan stamselle in diere), die voortplanting van orgideë nog verder 'n hupstoot gegee. Deur mikrovoortplanting was kweking van baie orgideë nou moontlik. Die eerste plant wat op hierdie wyse gekweek was, het in 1966 in 'n Marylandse kweekhuis geblom.

Orgideë in hul natuurlike habitat, kan soms baie skaars word. So is byvoorbeeld gedink dat die swart orgidee Acrolophia ustulata van Suid-Afrika uitgesterf was, omdat dit in 1921 laas gelys was. Hierdie klein en fyn plantjie, wat in die vroeg 1880's deur Harry Bolus ontdek is, is egter weer in September 1982 deur Vlok, 'n bosbewaarder raakgeloop. 'n Ander baie besondere groep van orgideë van Suid-Afrika is die Disa uniflora wat in die Wes-Kaapseberge groei. Die rooi Disa of Bakkieblom, bly een van die mooiste blomme in die wêreld.

 
Orgideë was vroeër baie eksoties en duur, maar onbekend maak in hierdie geval nie onbemind nie. Of dit nou pragtige bruidsruikers, of mooi klein handruikertjies vir strooi- en blommemeisietjies is wat aan die gewrig of gordel gedra word, of skouerboekette vir die bruidegom, of sommer net 'n verjaardagruiker is, orgideë se gewildheid neem steeds toe.

Groter weergawe

 
Die blomme se skoonheid is asemrowend, veral omdat al hoe meer hibriedes ook nou aan die publiek vrygestel word. Die beter toeganklike tegnologie wat kweekhuise goedkoper en meer effektief maak, asook die toenemende kennis oor hierdie besondere plante se behoeftes, dra by tot die vreugde dat doodgewone plantliefhebbers deesdae ook 'n orgidee kan bekostig en met redelike sukses kan benut as pragtige huisplante.
 
canadianorchidcongress.ca (Cattleya rex O’Brian)
canadianorchidcongress.ca (Cypripedium candidum -
Klein inheemse Kanadese Orgidee)
canadianorchidcongress.ca (Eienskappe van Orgideë)
canadianorchidcongress.ca (Wenke vir beginners)
chebucto.ns.ca (Geskiedenis van Orgideë en bekende persone in die geskiedenis)
slipperorchid.org
delfinadearaujo.com (Wenke vir algemene sorg van orgideë)
delfinadearaujo.com (Algemene geskiedenis)
orchidworks.com (Rekenaarskermfoto's)
gardeninglaunchpad.com (Aantal Orgidee-skakels)
royaleorchids.com (Aantal mooi foto's)
orchid.unibas.ch (Geïllustreerde Orgideë van die Wêreld by die Switserse Stigting vir Orgideë)
apps.rhs.org.uk (Internasionale Orgidee-register by die Royal Horticultural Society)

 

 


Groter weergawe

Perde

Ponies, donkies, kwaggas, zebras, perde en ook miniatuurperdjies is almal diersoorte in die genus Equus in die familie Equidae. Perde is 'n baie besondere groep diere in hierdie genus, met aansienlike verskille groottes en ander eienskappe. Hierdie intelligente herbivore met hoewe en lenige, sterk lywe, is oor die eeue heen getem om as hulp te dien in vervoer, oorlogsvoering, arbeid en ook sport.

Perde was onontbeerlik as vervoermiddel, of as deel van 'n voertuig, asook vir die trek van ploeë en plaasimplemente in die jare voor meganisasie. Hoewel verskeie soorte perde vir spesifieke funksies geteel was, is meeste perde goed bruikbaar as rydiere vir bv. die bymekaar jaag van vee, soos troppe skape of beeste, die vervoer van mense soos by die berede polisie, asook vir trekdiere van kapkarre, waens en ander soortgelyke rytuie.

   

Perde word deesdae ook baie aangewend in natuurgebiede vir toerisme, bv. vir ritte in bergagtige of ander minder toeganklike gebiede. Sportsoorte waarin perde 'n hoofrol speel, is o.a. dressering, perdesprong of gimkana, polo en polocrosse, balieresies, waentjieresies of die sg. "chuck wagon races", wat oa baie gewild is in die westelike dele van Kanada, en vele meer. Perde is ook hoogs opleibaar, soos gesien kan word by perde soos die Lippizaners. Dit is dus verstaanbaar hoekom perde ook dikwels in rolprente en die filmbedryf gebruik word.

Perde vorm ook baie kere deel van optogte en marse waar hulle, net soos die ruiters, ook pragtige opgetof en getooi word vir die spesiale okkasie. 'n Saal, toom en perdeskoene is alles deel van die dié diere se versorging en gebruik.


Groter weergawe

Die terapeutiese waarde van interaksie met troeteldiere is die afgelope jare uitgewys en perde en ponies speel hier ook 'n rol. Kinders met fisiese en/of geestelike en emosionele probleme, kan soms baat by die versorging of ry van 'n ponietjie of perd. Daar is net soos by die gidshonde wat gestremdes help, ook deesdae klein miniatuurperdjies of ponies wat aangewend word vir dié doel.

Net soos die magdom verskeidenheid van hond- of katsoorte, is daar ook baie perdsoorte, waaronder die Arabiese perde, Palomino's, die kragtige werkersperde soos die Belgiese trekperde, die Suffolk, die Shire en Boerperde. Dan is daar ook die bont Pinto's, die gespikkelde Appaloosa's, die kleiner maar vinnige Amerikaanse saalperde en die pragtige en hoogs intelligente Lippizaners, om maar net 'n paar te noem.

Daar is 'n paar dele in die wêreld waar perde nog ongetem in die natuur voorkom. Dit is oa die bekende Przewalski's, ook bekend as die Mongoolse wilde perde, wat tans nog vryelik in Mongolië voorkom. Daar is ook die perde van die Camargue, wat in die Rhone delta in die suide van Frankryk leef.

   


Groter weergawe

Ongetemde perde wat vry in die natuur leef, maar van getemde voorouers afstam, kom wel nog voor in die westelike dele van die Amerika's. Dié diere se oorsprong is waarskynlik vanaf perde wat deur die Conquistadors na Amerika gebring was en waarvan sommiges in die natuur losgelaat is. Die bekendste van dié groep is die Mustangs. Daar is ook groepe wilde perde in Alberta, asook in Sable Island, Nova Scotia in Kanada. Die wilde perde in Portugal en Spanje staan bekend as Sorraia en dié in Nieu Seeland as Kaimanawa. Talle ander sulke wilde perde wat van getemde voorouers afstam, kom nog hier en daar in Europa en ander wêrelddele voor.

Mens kan maar net na ou suile of ou kunswerke kyk om te sien hóé baie perde deel van die geskiedenis gevorm het in die verlede. Hulle vul ook nou nog 'n belangrike plek. Pragtige diere met 'n kleurvolle geskiedenis.

 

 

 Bybels
 Lees
 Lees 2
 Lees 3
 Lees 4
 Lees 5
 Lees 6
 Rekenaar
 Rekenaar 2
 Rekenaar 3
 Reken nou net
 Reken nou net 2
 Reken nou net 3
 Reken nou net 4
 Reken nou net 5
 Swartlys

 Dienste
 Gebeure
 Help
 Poste
 Produkte
 Skole
 Vermaak

 Mediakaart
 ADSA
 Media Map

 Bibles
 Computer
 Computer 2
 Computer 3
 Read
 Read 2
 Read 3
 Read 4
 Read 5
 Read 6
 Blacklist

 Entertainment
 Events
 Help
 Jobs
 Products
 Schools
 Services

Op|UpBiblesBybelsLees|ReadLees 2|Read 2Lees 3|Read 3Lees 4|Read 4Lees 5|Read 5Lees 6|Read 6Rekenaar|ComputerRekenaar 2|Computer 2Rekenaar 3|Computer 3Reken nou net!Reken nou net! 2Reken nou net! 3Reken nou net! 4Reken nou net! 5

ADSA Werfkaart | ADSA Site Map

     
Bunnies(ADSA) * Hasies (ADSA)

ARK Webontwerp

ARK Web Design 

ADSA Advertensie-Diens vir die Christelike gemeenskap (engel)

 Download Bibles

Bybels vir Aflaai

 

ADSA vir Klein Advertensies

ADSA © 1998-2013
Verontskuldiging ** Disclaimer

ADSA for Small Ads